Video: Rufus, bekende Wimbledon-valk gesteel

Rufus

Rufus, die valk wat seker maak dat duiwe nie die tennis by Wimbledon beïnvloed nie, is gesteel.

Dié roofvoël is Donderdagnag met sy hok uit ʼn voertuig gesteel, berig The Guardian. Speurders wat die saak ondersoek het ʼn beroep gedoen op die publiek om met enige inligting na vore te kom. ʼn Woordvoerder van die polisie sê Rufus is uit die voertuig in Dunstallweg, Wimbledon, gesteel. Die voertuig se agterruit was oop om seker te maak dat daar genoeg ventilasie in die voertuig is.

Rufus, wat die duiwe bloot deur sy teenwoordigheid verjaag, is glo ook ʼn troeteldier, het hy gesê. “Die gesin het baie geheg geraak aan Rufus, wat nou 4½ jaar oud is. Hulle is ontsteld oor die diefstal en wil hom graag terugkry,” het hy bygevoeg.

Rufus is al ʼn bekende gesig by die All England Club en besoekers neem graag ʼn foto saam met hom. Hy het selfs sy eie Facebook– en Twitterrekening.

Sy eienaar, Imogen Davis (25) het gesê sy is baie hartseer. “Hy is met sy reishok gesteel. Hy het graag in dié hok geslaap, aangesien dit koel, donker en gerieflik is,” het sy gesê.

Valke word sedert 1999 by die All England Club gebruik om duiwe te verjaag. Hulle word geleer om nie aan te val nie, maar om bloot rondom die tennisbane te vlieg om die duiwe af te skrik.

Rufus is elke oggend en aand van die toernooi vrygelaat om te vlieg, maar nie gedurende die wedstryde nie, om te verseker dat niemand se aandag afgetrek word nie.

Hector, ‘n plaasvervanger-valk, staan tydelik vir Rufus in.

Die volgende video oor Rufus is op 1 Julie 2011 deur die gebruiker bbcfivelive op YouTube gelaai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.