Video: Ruhan du Toit sing roepstem vir Sol-Tech

Argieffoto (Foto: Mia Slabbert)

Van vanjaar af sal 27 Januarie as ’n belangrike datum in Sol-Tech se geskiedenis geag word. Die beroepsopleidingskollege het pas sy eie Afrikaanse kampuslied, getiteld “Sol-Tech-roepstem”, bekendgestel.

Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is die “Sol-Tech-roepstem” meer as net ’n lied.

“Dit is ’n lied waarmee ons studente en personeel identifiseer en waarop hulle trots is. Om meer as manne en vroue die lied uit volle bors te hoor sing, is ’n trotse belewenis.”

Sol-Tech is hard aan die werk om studentetradisies en ’n unieke studente‑ervaring op sy kampus in Monumentpark te vestig. Eerstejaarskampe, die Vonkfees, en talle ander kuiergeleenthede vorm deel van die skep van die unieke studente‑ervaring.

Luidens ’n mediaverklaring wat Sol-Tech oor die nuwe toevoeging tot studentelewe uitgereik het, het dié lied juis oorsprong by een van hierdie geleenthede gevind. Tydens ’n saamsinggeleentheid by ’n vorige eerstejaarskamp, het die behoefte ontstaan om ’n amptelike Sol-Tech‑lied te hê.

Dié lied verteenwoordig Sol-Tech se Christelike karakter, die roeping van die personeel en studente, en die strewe om ’n beter, hoopvolle toekoms te bou.

Die lied vertel ook die verhaal van die unieke ambag- of beroepsopleidingsomgewing waarin Sol-Tech funksioneer.

Daar is talle talentvolle musikante ingespan om te help skryf en vervaardig aan dié trotse oomblik in Sol-Tech se geskiedenis.

Onderwyseres Mari Bosman is nader gehark as liedjieskrywer, en moes in ’n kwessie van ’n uur tydens een van haar vry periodes dié lied aanmekaar slaan. Met die hulp van ’n skooltafel as trom, het Bosman haar uitstekend van haar taak gekwyt.

Die voortreflike stem van die sanger Ruhan du Toit kan gehoor word in die amptelike opname en musiekvideo van die lied.

Volgens Monia Boshoff, elektriese student by Sol-Tech, is die lied ʼn kragtige roepstem wat Sol-Tech in al sy fasette beskryf. “Die lied beskryf hoe ons as studente elke dag aan ons drome en toekoms bou.”

Vir meulmakerstudent Francois van der Merwe is die lied deel van sy kultuur. “Die lied is ʼn simbool van jongmense wat saamstaan om waardegedrewe te bou aan hul eie toekoms, dié van hul kinders en aan ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika te werk. Die ‘Sol-Tech-roepstem’ is ons kultuur, dis ons hoop en ons vashouplek.”

  • Die “Sol-Tech-roepstem” kan vanaf 27 Januarie op alle musiekstromingsplatforms afgelaai en geluister word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

En so sal die afrikaans sprekende sy juk van onderdrukking en diskriminasie afskud en voorspoedig die toekoms ingaan.

EnoughSaid ·

Dis awesome….. Bid en vertrou dat ST sal aanhou groei en vinnig onder top instansies op internasionale ranglyste boer…..

Witwax ·

Dit laat n mens voel daar is lig aan die einde van die tonnel.

RS ·

Fantasties!

Ek bid dat ek 2027 finansies sal he om my seun ook by hulle te laat studeer.

AmY ·

Baie sterkte in alles wat julle nog gaan doen.
#trotsafrikaans

Benita ·

Hel ek is so trots om ‘n afrikaner te wees. Voorspoed vir elke kind wat daar studeer. Trots op julle.

Johan ·

Ons smeek dat julle ook in Kaapstad of Stellenbosch(?) ń SolTech sateliet sal open.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.