Video: Sewe David Beckham-ondersteuners in stormloop beseer

David Beckham

Sewe mense is beseer toe sokkergeesdriftiges, wat graag vir David Beckham wou sien, Donderdag ʼn polisieversperring by Shanghai-universiteit bestorm het.

Drie polisiebeamptes, twee sekuriteitswagte van die universiteit en twee studente is beseer, het die polisie van Shanghai, China, gesê.

Nagenoeg 1 000 bewonderaars het by die stadion by Shanghai Tongji-universiteit saamgedrom waar die afgetrede sokkerspeler lede van die universiteitspan sou ontmoet, berig Xinmin Net. Met Beckham se aankoms het die aanhangers deur ʼn hek gestorm en deur ʼn ry polisiebeamptes en wagte gebars. Foto’s en beeldmateriaal wys hoe mense op die grond vasgedruk word, skoene gestrooi word en ʼn vrou in ʼn uniform, met ʼn bebloede gesig, weggedra word.

“Te mal,” het Chu Dan, ʼn sokkerspeler van die Tongji-universiteit, gesê. Hy het glo gehoop om bietjie interaksie met die speler op die veld te hê. “Ons het egter nie verwag dat so baie mense gaan opdaag nie. Dit is te veel aanhangers,” het Dan gesê.

Die geleentheid is gekanselleer en die polisie in Shanghai het gesê hulle ondersoek die voorval.

Beckham is hierdie week in China om die land se top liga, die Chinese Super League, te bemark. Hy is as ʼn “beeld-ambassadeur” aangestel om die sport te bevorder.
Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.