Video: Skatkis 100 jaar later oopgemaak

Mary Fallin, goewerneur van Oklahoma

ʼn Skatkis van goedere uit 1910 is die afgelope week ontdek toe ʼn tydkapsule opgegrawe en in ʼn kerk in Oklahoma, Amerika, oopgemaak is.

Volgens Fox 25 News is dié “Century Chest” (Eeu-kis) 100 jaar gelede in die kelder van Oklahoma City se First Lutheran Church onder 30 cm sement begrawe.

Die kerk se vrouehulpvereniging het die skatkis glo in 1913 begrawe. Dit is Maandag uiteindelik oopgemaak nadat dit uitgehaal is. Dit het ʼn konstruksiemaatskappy glo sowat 11 ure lank geneem om die houer uit te grawe.

Die gehoor het verstom gestaan toe ʼn versameling van voorwerpe uit die skatkis gehaal is, onder andere ʼn uitgawe van 22 April 1913 van die Daily Oklahoman, ʼn landskaart, ʼn aantal voorwerpe eie aan Amerikaanse Indiane, ʼn paar dameskoene, ʼn pen waarmee pres. William McKinley die 1900 Wet op Vrye Tuiste vir Oklahoma onderteken het en ʼn fonograafopname van mense uit die eeu.

“Dit is meer as waarvoor ons gehoop het,” het Chad Williams, navorsingsdirekteur van die Oklahoma-geskiedenissentrum, gesê. “Ek het verwag van die voorwerpe gaan beskadig wees, maar alles lyk of dit in ʼn puik toestand is.”

ʼn Boek vol familiefoto’s en gedigte wat glo aan ene Virginia Sohlberg behoort het, is ook ontdek. Die skatkis was glo Sohlberg se idee. Haar agterkleinkind, Virginia Eason Weinmann, het gesê sy “wag al haar hele lewe lank om te lees wat haar voorvaders geskryf het”. “Toe ek 50 was, het ek gesê ek wonder of ek so lank sal leef. En toe op 60 het ek gewonder of ek so lank sal leef, en nou is ek dankbaar dat ek dit gemaak het,” het Weinmann gesê.

Alle artikels wat uit die skatkis gehaal is, sal deur die Oklahoma-geskiedenissentrum bewaar word en later vanjaar aan die publiek ten toon gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.