Video: Snoesige robot-robbe vir tsoenami-slagoffers

Snoesige robot-robbe wat op menslike aanraking reageer, is die nuutste middel om Japan se tsoenami-slagoffers wat aan depressie ly, te bemoedig.

“Paro” word aangebied aan mense wat weens die tragedie haweloos gelaat is en bied ʼn klein bietjie noodsaaklike aanraking met sy geluidjies en waarderende flap van sy vinne wanneer hy met mense in aanraking kom. “Dit is so oulik. Dit maak koergeluidjies wanneer ek dit vryf,” het die 10-jaaroue Kosei Oyama gesê. “Weens die tsoenami het ons minder dinge om mee te speel as vantevore.”

Tsuyako Kumagai, ʼn 47-jarige huisvrou het gesê haar vriende in tydelike huise is tevrede met Paro as ʼn plaasvervanger vir troeteldiere wat deur die reuse golwe weggevoer is. “Talle van my bure wil nie nuwe troeteldiere hê nie, omdat hulle nie aan hul vorige troeteldiere herinner wil word nie,” het Kumagai gesê.

Die robot-robbe is beskikbaar gestel aan mense wat in tydelike huise in ʼn bofbalstadion in die hawedorp Kesennuma bly. Dié gebied is verlede Maart ernstig getref deur die tsoenami waarin 19 000 mense aan die kus dood is. Vir talle is die lewe reeds ʼn klein bietjie beter, maar nog ver van perfek af. “Ek het alles verloor wat ek in my lewe opgebou het,” het Hiroshi Onodera (51) gesê. Onodera se broerskind is oorlede en sy huis is meegesleur. Hy bly nou saam sy ma in ʼn tydelike huis en voel afgesluit van sy gemeenskap. “Dit is wonderlik om so ʼn plek te hê waar ons geestelik gesond kan word,” het Onodera gesê toe hy na die gemeenskapsgebou verwys het waar die robotfiguurtjies vir ʼn kort termyn geleen kan word.

Die rob, wat met aanraking- en oudiosensors toegerus is, word reeds in hospitale en ouetehuise as ʼn terapeutiese hulpmiddel gebruik vir ouer mense wat onder andere aan depressie ly. “Dit is belangrik vir die inwoners om kommunikasie te behou,” het Kazuhiro Kojima, ʼn navorser by Advanced Industrial Science and Technology, gesê.

Bykans 325 000 mense woon steeds in tydelike huise, hoofsaaklik in die noorde van Japan.

http://youtu.be/PNw4oicWmWU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.