Video: Starbucks-koffie glo uit die toiletkraan

‘n Video volg onderaan die berig. ʼn Starbucks-restaurant in Hong Kong se weelderige finansiële distrik, wat glo water van ʼn kraan naby ʼn toilet gebruik het om koffie mee te brou, het Donderdag hewige reaksie van ontstoke klante ontlok.

Die koffiewinkel, in die bekende Bank of China Tower, gebruik glo al water van dié kraan in die toilet sedert sy ontstaan in Oktober 2011. Foto’s van die plaaslike koerant, Apple Daily, wys die kraan in ʼn vuil badkamer, met ʼn waarskuwing daarby, “Slegs Starbucks”. Volgens die koerant is die toilet in die gebou se parkeerarea.

“Heeltemal teleurgesteld! Die oorspronklike besluit deur Starbucks om water van die toilet te gebruik is ʼn duidelike teken van jou maatskappy se visie en die vlak van minagting wat jou maatskappy vir die gesondheid van sy klante het,” het Kevin L op Starbucks Hong Kong se Facebook-blad geskryf.

“Die water word minder as vyf keer per dag deur personeellede by die kraan in die toilet naby die winkel gaan haal,” het Wendy Pang, woordvoerder vir Starbucks, gesê. “Die kraan is spesifiek vir drinkwater. Daar is nie ʼn direkte watervoorsiening na die betrokke restaurant toe nie, daarom moet ons water by die naaste bron in die gebou gaan haal.”

Die water van die kraan gaan glo deur ʼn filtrasiestelsel in die winkel om te verseker dat dit aan plaaslike en Wêreldgesondheidstandaarde sal voldoen, het Pang gesê. Die restaurant maak nou glo gebruik van gedistilleerde water.

“Die kwessie wat meer kommerwekkend is, is die moontlike risiko dat patogene van die toiletomgewing na die Starbucks, waar kos voorberei word, versprei,” het prof. Benjamin Cowling van die Hong Kong University Skool van Openbare Gesondheid, gesê. “Ek sal in die eerste plek nie die restaurant besoek indien ek vermoed dat hulle moontlike onhigiëniese praktyke het nie.”
-SAPA
http://youtu.be/jtBzqVfQyOs

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.