Video: Sterwende kleuter is ouers se strooijonker

Logan en sy ouers, Christine Swidorsky en Sean Stevenson

‘n Video volg onderaan die berig. Christine Swidorsky en Sean Stevenson van Pennsylvania in Amerika trou Saterdag, maar die geleentheid sal met ‘n traan gevier word wanneer hul sterwende tweejarige seun, Logan, as hul strooijonker sal optree.

Logan is in Desember 2011 gediagnoseer met ‘n aggressiewe vorm van leukemie. Ná twee jaar van verdere diagnoses, lang tye in die hospitaal en operasies, het dokters nou aangedui dat Logan nie meer lank sal leef nie. “Ons was Dinsdag by die dokter se spreekkamer, en hy het gesê daar is hoogstens drie weke oor,” het Christine aan Today.com gesê. “Ons het ons huwelikseremonie beplan en was op soek na sale, maar ons het nou besluit om dit te vervroeg sodat Logan ook daaraan kan deelneem. Dit kan iets wees wat ons as gesin saam gedoen het.”

Christine en Sean het mekaar in 2007 ontmoet, net nadat Christine se ma weens borskanker gesterf het. “Hy het my lewe verander,” sê sy. Sy het ook ‘n dogter uit ‘n vorige verhouding. “Hy het Isabella as sy eie aanvaar,” sê Christine.

Logan is in Oktober 2010 vroeggebore en het met komplikasies gesukkel. “Maar vir die eerste jaar van sy lewe was hy relatief gesond.” Sy sê egter hy het vinnig gekneus. “Selfs as ek net sy doek wou ruil en ek het hom neergesit, sal hy ‘n blou kol kry.” Die kinderhospitaal in Pittsburgh het hom met myeloïde leukemie gediagnoseer.

Hy het chemoterapie ontvang en verlede jaar ‘[2012] n stamseloorplanting ondergaan. Die dokters het vroeër vanjaar [2013] egter ‘n gewas op een van sy niere opgespoor en moes een van sy niere verwyder. Ná die operasie en gevolglike chemoterapie was hy vir ‘n paar weke lank sonder kanker. “Hy het vaste kos begin eet, en dit het gelyk of dit goed gaan,” sê Christine. Maar tydens ‘n familievakansie na Disney World het hy ernstig siek geword en hulle is met ‘n mediese vliegtuig terug na Pittsburgh.

Die dokters het verlede week nog ‘n gewas opgespoor. “Die dokters sê verdere behandeling sal meer skade aanrig as goed,” verduidelik Christine.

Christine en Sean sou aanvanklik in Junie 2014 getrou het. Meer as 100 gaste word Saterdag by die egpaar se huis in Jeannette, Pennsylvania verwag. Die hele dorp het glo hul ondersteuning gebied. “Daar is soveel ondersteuning. Almal bied hul gebede, donasies, goedere en dienste. Ek het nie ‘n rok gehad nie en my skoonsus het vir my ‘n trourok gegee.”

Christine sê die gesin se doel is nou net om Logan se laaste paar weke so lekker as moontlik te maak. “Hy is baie lief vir dans. Hy is mal oor Elvis Presley. En hy is dol oor spaghetti.” Sy sê sy word geïnspireer deur ander ouers wat kinders met kanker gehad het. “Ons wil hê Logan se storie moet vertel word. Ek het hom in die wêreld ingebring, en ek sal daar wees wanneer hy ‘n nuwe lewe betree. Ek is dankbaar vir elke gebed.”

Visit NBCNews.com for breaking news, world news, and news about the economy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.