Video: Sukses vir groot vliegtuig ná hy by verkeerde lughawe land

Die Dreamlifter-vliegtuig

Die Dreamlifter-vliegtuig

Die video volg onderaan die berig. ʼn Boeing Dreamlifter-vragvliegtuig wat by ʼn verkeerde lughawe geland het, kon Donderdagmiddag suksesvol van die kort aanloopbaan opstyg.

Die Dreamlifter het sonder voorval opgestyg, maar paaie naby aan die lughawe is deur die Kansas-owerhede vir veiligheidsmaatreëls gesluit. Die vliegtuig het 19 minute later by sy aanvanklike bestemming, die McConnell-lugmagbasis in Wichita, geland.

Die Dreamlifter is ʼn Boeing 747 wat groter gemaak is en waaraan daar veranderinge aangebring is om onderdele van 787 Dreamliners te vervoer.

Die vlieënier het deurmekaar geklink oor waar hy moes land toe hy met die lugbeheertoring by McConnell-lugmagbasis gesels het. Hy wou by die lugbeheertoring weet hoeveel lughawens in die gebied is, en hy het toe inderdaad by die verkeerde lughawe, Col. James Jabara-lughawe, geland. (Luister na die klankgreep van die gesprek tussen die vlieënier en die lugbeheertoring onderaan die berig.)

Nadat die vliegtuig by Jabara geland het, kon die Dreamlifter omdraai om weer vir die 19 minuutlange vlug na McConnell-lugmagbasis op te styg, maar daar was ʼn vrees dat die aanloopbaan te kort gaan wees. Die Dreamlifter benodig optimaal ʼn aanloopbaan van 3 km, maar die aanloopbaan by Jabara is slegs 1.85 km lank.

Brad Christopher van die Wichita-lughawensowerheid het gesê die groot vliegtuig sal kan opstyg. “Ons het die versekering ontvang dat alle ingenieursberekenings gemaak is, en die vliegtuig sal, met die bestaande weersomstandighede en gewig van die vliegtuig, veilig kan opstyg,” het Christopher gesê.

Volgens The Wichita Eagle het hulle van die brandstof uit die vliegtuig getap om sy gewig te verminder.

Die Dreamlifter het ongeveer 13 ure lank by Jabara vertoef.

‘n Paar motorongelukke is rondom die lughawe aangemeld waar mense in mekaar vasgery het soos wat hulle vir dié groot vliegtuig by die klein lughawe gekyk het, het CNBC berig.

Die Dreamlifter het ook net nadat hy by die verkeerde lughawe geland het, ‘n parodie-Twitter-rekening gekry. Klik hier om die tong-in-die-kies-twiets te lees.

Lees ook:
Verkeerde lughawe: vliegtuig gestrand

‘n Klankgreep van die gesprek tussen die vlieënier en die lugbeheertoring volg onderaan die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justi ·

Die vlieenier het baie moed gehad. Hy het hom beslis goed gekwyt van sy taak.

Kenko ·

Klink maar vreemd. Hy en lugbeheer het mos genoeg tegnologie beskikbaar om te weet waarheen hy vlieg, tensy daar fout mee was. Lyk my hy het eerder op bakens staatgemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.