Video: Sussies jare lank onder haglike omstandighede aangehou

Fernando en Sophia Richter

Fernando en Sophia Richter

ʼn Egpaar in Tucson, Arizona, staar ernstige aanklagte in die gesig nadat hulle hul drie dogters twee jaar lank onder haglike omstandighede in ʼn huis toegesluit het.

Die twee jonger sussies, onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, het Dinsdag ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop nadat hul stiefpa hulle glo met ʼn mes gedreig het, het die Arizona Daily Star Woensdag berig.

Die bure het die polisie ontbied.

Die derde dogter, 17 jaar oud, is later deur die polisie toegesluit in haar kamer opgespoor.

Die dogters was ondervoed en “uiters vuil”, het die polisie gesê. Die dogters sê hulle is nou al vir bykans ses maande lank nie toegelaat om te bad nie, en dat hul ma en stiefpa hulle slegs een keer per dag kos gegee het.

Die dogters se bewegings is streng gekontroleer: hoe, wanneer en waar hulle die badkamer gebruik en wanneer hulle eet. Hulle het mekaar vir ʼn groot gedeelte van die tyd, wat hulle in aanhouding was, nie gesien nie.

Harde musiek is deurlopend in die dogters se kamers gespeel en handdoeke is in ventilasiegate en onder deure gedruk om seker te maak dat die bure nie die geraas sou hoor nie.

Die polisie ondersoek ook ʼn dagboek wat die 17-jarige dogter aangehou het. Dié dagboek bevat glo besonderhede van die daaglikse mishandeling oor die afgelope 18 maande. Sy het ook ʼn foto van die sanger Enrique Iglesias by haar gehad. Sy het dié foto as haar “kosbaarste besitting” beskryf, en was oorstelp van vreugde toe die polisie die foto aan haar teruggegee het.

Die polisie het die stiefpa, Fernando Richter (34) en ma, Sophia Richter (32) in hegtenis geneem. Hulle staar aanklagte van ontvoering en emosionele en fisiese kindermishandeling in die gesig. “Die stiefpa word ook aangekla van seksuele mishandeling,” het Chris Widmer, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die dogters se biologiese pa was glo onder die indruk dat hulle in Kalifornië bly.

Die drie meisies is saam na ʼn plek van veiligheid geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justi ·

Watse ding noem mens die “MA”? N vrou? En die “STIEFPA” ? Mense? Persoonlik noem ek hulle gemors. Sies!

Die arme kinders. Ek hoop van harte hul word nie terug besorg aan die sogenaamde “Ouers” nie.

Max ·

Stem Justi, die mense moet baie siek wees, hoop hul verrot in die hel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.