Video: Trekker-legendes trek nou op Facebook

Maroela Media laat nou die Groot Trek-geskiedenis op Facebook herleef.

Dié media-instansie het Facebook-profiele geskep vir ‘n paar van die bekendste Voortrekkers, asook vir die Zulukoning Dingane. Die trekkers vertel dag vir dag wat op die trek gebeur en watter uitdagings hulle in die gesig staar. Menslike insidente wat nie noodwendig in die geskiedenisboeke opgeteken is nie, soos geboortes, sterftes, huwelike en die trekkers se alledaagse doen en late, kry op dié manier nuwe lewe. Die projek vorm deel van die 175 jaar-vieringe van die Groot Trek.

Alle inligting op die trekkers se “status updates” is feitelik korrek en word verskaf deur dr Jackie Grobler, ‘n historikus verbonde aan die Universiteit van Pretoria se departement historiese en erfenisstudies. Baie inligting is ontleen aan die dagboeke van trekkers wat deeglik dagboek gehou het, soos Louis Tregardt en Anna Steenkamp.

Op Maroela se webblad is ook ‘n nuusblad, Die Groot Trek Nuus, geskep waar “nuusgebeure” uit die trek in koerantvorm aangebied word. Nuusvideo’s van Maroela Media se “verslaggewer op die toneel” word ook van tyd tot tyd hier opgelaai.

“Ons doel met die projek is om die Groot Trek-geskiedenis, wat maar afgewater in die geskiedenishandboeke aangebied word, vir mense en veral skoolkinders lewendig en toeganklik te maak,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Uit mense se kommentaar sien ons dat hulle werklik trots is op hierdie stuk geskiedenis van hulle.”

Volgens Lombaard lê ‘n opwindende deel van die veldtog nou voor. “Piet Retief en sy manne was verlede week by Dingane in Mgungundlovu. Sedertdien is daar geen taal of tyding van hulle nie, en al die trekkers bespiegel op Facebook oor waar hulle hul moontlik bevind. Lenie Retief is baie bekommerd,” het sy gesê.

Sluit gerus aan by Piet Retief, Hendrik Potgieter, Louis Tregardt, Anna Steenkamp en Dingane se Facebook-bladsye en hoor wat hulle als uit hul laers verklap. Kom maak ook ‘n draai by Die Groot Trek Nuus.

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, Dstv-kanaal 144 elke aand om 19:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik Meyburgh ·

Gaan julle die “dagboeke” ook saamvat in n gedrukte boekvorm?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.