Video: Turynse lykskleed dalk tóg eg

Die Turynse lykskleed

Die bekende en omstrede lykskleed van Turyn wat glo Christus se lykskleed sou wees, en ‘n afbeelding van ‘n persoon bevat, is dalk tog oud genoeg om eg te wees, meen navorsers van Padua.

Die Vatican Insider berig Volgens ouderdomstoetse wat hulle gedoen het is die linne van die kleed gemiddeld 1 980 jaar oud, wat omtrent saamval met Jesus se beraamde sterfdatum. Die ondersoek stem grootliks ooreen met die bevindings in 2011 van die Italiaanse Owerheidsinstituut, ENEA.

Tot dusver is algemeen aanvaar dat die kleed ‘n Middeleeuse vervalsing is, wat in die 14de eeu in Frankryk opgeduik het. In die tagtigerjare het drie onafhanklike ondersoekspanne, een van die Universiteit van Arizona, een van Oxford en die Switserse Federale Instituut vir Tegnologie bevind dat die kleed uit die 13de of 14de eeu dateer. Die moontlikheid word nou genoem dat die stukkie lap wat hulle gekry het, lap van ‘n stukkie latere herstelwerk aan die kleed was.

Boonop het die ondersoekers vasgestel dat die vae afbeelding op die kleed slegs met die hulp van gevorderde UV-bestraling gedoen kon wees. Dié behandeling was uiteraard nie in die Middeleeue beskikbaar nie, en nog minder in Jesus se tyd – met die gevolglike afleiding dat ‘n wonderwerk nie buite rekening gelaat kan word nie.

Die stuk lap is 4.3 meter lank en 1 meter breed en word in ‘n koeëlvaste, klimaatbeheerde kas in Turyn se katedraal aangehou, maar word selde aan die publiek vertoon. Die kleed is Saterdag tydens ‘n spesiale televisieprogram (sien video onder) aan die publiek vertoon. Dié vertoning gaan gepaard met Heilige Saterdag, wanneer katolieke die tydperk tussen Christus se kruisiging op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag vier. Dit is slegs die tweede keer wat die kleed spesifiek aan ‘n televisiegehoor gewys word. Die eerste keer was in 1973 op versoek van Pous Paulus VI.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.