Video: Veldtog teen plaasaanvalle – Vertel jou Storie-projek

Die Solidariteit Beweging het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie ’n aksieplan as deel van hul veldtog teen plaasaanvalle bekendgestel.

Die veldtog poog om die regering te dwing om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te klassifiseer; om toe te sien dat spesialiseenhede vir landelike veiligheid in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingestel word; en om steun aan gemeenskappe te gee wat deur dié misdaad geraak word. Die eerste been van die veldtog, genaamd Vertel jou Storie, is ook vandag bekendgestel en bied aan die publiek die geleentheid om plaasaanvalle waardeur hulle geraak is, te laat opteken sodat dit later vanjaar in ’n ‘boeke-monument’ opgeneem kan word. Meer as 2 600 plaasaanvalle is reeds gelys en was verlede jaar in die boek, Treurgrond, opgeteken. ’n Treffende video oor plaasaanvalle is ook vandag bekendgestel. (Sien video hier onder).

Die tienpunt-aksieplan van die Solidariteit Beweging (spesifiek die vakbond Solidariteit, AfriForum, Kraal-Uitgewers en die Solidariteit Navorsingsinstituut) behels onder meer ’n proses van plaaslike en internasionale bewusmaking en verkryging van steun vir die eise; ’n petisie oor plaasaanvalle; skakeling met die regering en belanghebbendes in die landbousektor; en verskeie aksies om oorledenes en mense wat deur aanvalle geraak is, te gedenk. Voorts sluit dit ook ’n regstrategie, sterk navorsingskomponent en steun aan plaaslike gemeenskappe in. Die veldtog sal vir die res van die jaar aktief deur die Beweging gedryf word.

Die veldtog teen plaasaanvalle volg in reaksie op die nuwe vlaag plaasaanvalle wat sedert die begin van die jaar plaasgevind het en die regering se onvermoë om iets daadwerklik hieraan te doen. Volgens dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, soek die Beweging ’n praktiese oplossing vir die probleem van plaasaanvalle. “Ons eise is eenvoudig en die inwerkingstelling van ons eise kan ’n definitiewe en direkte invloed op die hantering van plaasaanvalle in Suid-Afrika hê. Dit is onmoontlik om misdaad wortel en tak uit te roei, maar ons moet minstens na kreatiewe maniere kyk om plaasaanvalle te pak,” verduidelik Hermann.

Hermann beklemtoon dat die veldtog teen plaasaanvalle ’n aanklag is teen die regering en die SAPD se gesloer om oplossings te vind en in werking te stel. Ten spyte daarvan dat die polisie weer vroeër vanjaar beloof het dat ’n hersiene landelike veiligheidsplan eersdaags aangekondig gaan word, het dit nog nie gebeur nie.

Intussen is daar rekord van minstens 2 617 afsonderlike plaasaanvalle waarin sowat 1 445 mense vermoor is, en steeds lyk dit asof die regering nie die erns van die situasie insien nie.

Die lys is gebaseer op ’n databasis van plaasaanvalle wat reeds sedert 1990 deur die TLU SA bygehou word en hoofsaaklik aanvalle is waaroor daar in die media berig is. Hermann beklemtoon dat die bestaande lys nie naastenby volledig is nie en daarom word gehoop dat daar deur die projek Vertel jou Storie ’n meer volledige blik op die ware omvang van plaasaanvalle verkry kan word.

Wil jy jou storie vertel? Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.