Video: Verwoesting ná olietrein ontplof

Foto: The Canadian Press

‘n Video volg onderaan die berig.
Ten minste vyf mense is dood en sowat 40 word steeds vermis nadat ʼn olietrein in Quebec, Canada, ontspoor en ontplof het.

Die owerhede verwag egter dat die dodetal steeds kan styg.

Twee-en-sewentig van die trein se waens het Saterdagoggend ontspoor en sowat 11km ver teen ʼn afdraende na benede gestort in ʼn dorp naby die Maine-grens. Die waens het een vir een ná mekaar ontplof.

Daar was Sondag steeds kommer oor twee olietreinwaens wat steeds op die toneel is. Die waens word met water en skuim bedek om seker te maak dat hulle nie oorverhit nie.

“Dit is ʼn ongelooflike ramp,” het Stephen Harper, Kanada se Eerste Minister, gesê. “Dit is ʼn vreeslike groot gebied en 30 geboue is heeltemal verwoes. Daar is nie ʼn familie wat nie hierdeur geraak word nie.”

Sowat ʼn derde van die 6 000 inwoners moes hul huise ontruim.

Plaaslike inwoners is oortuig dat die dodetal baie hoër is as vyf mense. ʼn Woordvoerder van die lykskouer het gesê dit gaan dalk nie moontlik wees om al die liggame op te spoor nie, weens die sterkte van die ontploffings.

Die olie is van North Dakota in Amerika na ʼn raffinadery in New Brunswick vervoer.

Beamptes van die Montreal, Maine & Atlantic Railway het gesê hulle voel die vervoer van olie per spoorlyn is veilig, ondanks die ramp. Die maatskappy is glo van mening dat die trein se remme ingegee het. “Die trein het parkeer gestaan. Dit was vasgemaak. Die remme was vasgetrek, maar het op een of ander manier ingegee,” het Joe McGonigle, adjunkpresident van bemarking vir die maatskappy, gesê. “Daar is geen bewyse dat ons kriminele of terreur-verwante aktiwiteit kan vermoed nie.”

Associated Press-verslaggewer Rob Gillies en Charmaine Noronha het uit Toronto berig.
-SAPA
http://youtu.be/mAqSDYekmTQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.