Video: Vrou na 17 dae lewend uit puin gered

Die foto is deur @timesofindia op Twitter gelaai

Reddingswerkers in Dhaka, Bangladesj het ʼn vrou gered nadat sy onder die puin vasgekeer was van ʼn fabrieksgebou wat 17 dae gelede ineengestort het.

Die negeverdieping-gebou het op 24 April ineengestort en meer as duisend liggame is reeds uit die puin verwyder. Reddingswerkers het Vrydag voortgegaan om liggame uit die puin te verwyder toe hulle ʼn vrou hoor roep het. Sy is glo in ʼn gaping tussen ʼn balk en ʼn kolom gevind. Die vrou, wat deur die land se media slegs as Reshma geïdentifiseer is, het glo gestaan toe sy gevind is. Sy is op ‘n draagbaar uitgedra en in ‘n ambulans gelaai. Volgens reddingswerkers het die vrou baie gewig verloor maar blyk sy geen ander beserings op te gedoen het nie. Sy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Volgens berigte was daar tot 3 000 werkers in die gebou toe dit in duie gestort het. Amptenare het gesê die gebou is sonder die regte boupermitte opgerig. Minstens 12 mense, waaronder die eienaar van die gebou, is reeds in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Resham se redding is een van merkwaardigste in die afgelope paar jaar. In Desember 2005 is ʼn 40-jarige vrou lewend gevind nadat sy vir twee maande onder puin vasgekeer was na ʼn aardbewing. ʼn 27-jarige man was vir 27 dae onder puin vasgekeer na ʼn aardbewing in Haiti in 2010.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.