Video: Vrou se bungeekoord breek by Vic-valle en sy oorleef

Erin Langworthy

Erin Langworthy van Sydney, Australië, het die ervaring van ʼn leeftyd gehad toe haar bungee-sprong by die Zambesirivier in Zimbabwe byna haar lewe gekos het.

Net meer as 25 meter bo die grond het die ondenkbare gebeur: haar bungeekoord het gebreek en haar kop eerste in die rivier, wat gewoonlik vol krokodille is, laat val het. “Dit het dadelik swart voor my geword, en dit het gevoel of ek oraloor geklap word,” het Langworthy gesê. Terwyl haar bene steeds vasgebind was, is sy rivier-af gesleur na die stroomversnellings. Die bungeekoord het kort-kort aan rotse vasgehaak en haar ondertoe getrek. “Ek moes onderwater swem en die bungeekoord losmaak waar dit vasgehaak het,” het sy gesê. Sy het gesukkel om kop bo water te hou, maar Langworthy kon uiteindelik na die wal toe swem en wag om gered te word.

“Toe hulle my uit die water haal, het hulle my op my rug laat lê, en al die water wat ek ingesluk het, het my laat voel asof ek nie kan asemhaal nie. Hulle het my toe omgekeer en toe het ek water en bloed begin hoes,” het Langworthy gesê.

Die 22-jarige is toe na Suid-Afrika afgevoer waar sy ʼn week lank in die hospitaal vertoef het. Buiten die paar kneusplekke staan dokters in verbasing dat sy nie ernstige beserings opgedoen het nie. “Ek dink definitief dit is ʼn wonderwerk dat ek dit hoegenaamd oorleef het,” sê Langworthy. Pogings om met die bungeemaatskappy in verbinding te tree was onsuksesvol, maar die maatskappy het in ʼn aanlynverklaring bevestig dat hul toerusting en aktiwiteit veilig is en dat die gebreekte toerusting vervang is.

Kyk na die video hier:
(WAARSKUWING: Nie vir sensitiewe kykers nie)

http://youtu.be/q6F-ZtMIBxE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.