Video: Werklose onnie gee $20 000 terug

Candace Scott

‘n Onderhoud met Candace volg onderaan die berig. Candace Scott, ʼn werklose onderwyseres van Texas in Amerika het Dinsdag ʼn sak met $20 000 (sowat R200 000) kontant op ʼn sypaadjie opgetel en dit aan ʼn bank terugbesorg.

Sy sê die sak het ʼn Chase Bank-logo opgehad en sy het net honderdollar-note in die sak gesien. Sy het nie geweet hoeveel geld in die sak is nie.

Sy het egter na die naaste tak van Chase Bank gery en die sak aan die bestuurder oorhandig. “Ek het iets opgetel wat nie aan my behoort nie,” het Scott aan KBTX gesê. “En ek wou dit graag aan die regmatige eienaar terugbesorg.”

Die voormalige laerskoolonderwyseres het bedank toe sy en haar gesin na College Station in Texas verhuis het. Sy was glo oorspronklik besorg dat dit dwelmgeld was. “Ek was bietjie bang toe ek dit opgetel het,” het sy aan The Eagle, ʼn plaaslike koerant, gesê. “Maar toe het ek die bank se kenteken daarop gesien.”

Die kontant moes glo in een van die bank se kitsbanke inbetaal word. Hulle het ʼn geskenkbewys van $500 (sowat R5 000) aan Scott oorhandig.
http://youtu.be/8HKSxjVKoJc

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.