Vier beseer ná buurman bom in vuur gooi

Vier mans is Sondagoggend in Noordwes beseer nadat ʼn buurman glo ʼn plofbare toestel in ʼn vuur gegooi het.

Lt.kol. Lesego Metsi, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die voorval het omstreeks 01:30 by die Tshwana-gebied in Mmakau naby Brits plaasgevind. “Drie mans, tussen die ouderdom van 28 en 56, het Sondagoggend om ʼn vuur buite ʼn plakkershut gesit en kuier. ʼn Buurman, het die drie mans genader en die plofbare toestel in die vuur gegooi,” het Metsi gesê. “Al vier mans het die ontploffing oorleef, maar het ernstige brandwonde aan hul gesigte en lywe opgedoen.”

Die vier mans is na die Brits-hospitaal geneem, maar die verdagte is later met derdegraadse brandwonde na die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa oorgeplaas. Die drie slagoffers is steeds in die Brits-hospitaal in ʼn ernstige maar stabiele toestand.

Die polisie het die verdagte se huis deursoek en glo beslag gelê op nog ʼn plofbare toestel. Die man het vermoedelik die toestel by sy werkplek gesteel. Hy word aangekla van poging tot moord en die onwettige besit van plofstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.