Vier mense is Saterdagoggend dood en 10 beseer na ʼn minibustaxi-ongeluk op die R61 tussen Cradock en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap.
Ao. Elmarie van Eck, woordvoerder van die polisie, sê dit blyk dat die taxi se linkervoorwiel gebars het waarna die taxi ʼn grondwal getref en omgeslaan het. “Die bestuurder van die taxi en drie ander mense is op die toneel dood.” Ses kinders is ernstig beseer terwyl vier volwassenes ligte beserings opgedoen het. Die beseerdes is na ʼn hospitaal in Cradock geneem vir behandeling. Die taxi het 14 insittendes gehad en het glo van Kaapstad na Mthatha gereis.