Vier geskiet tydens JHB-winkelsentrum rooftog

Vier mense, waaronder ʼn baba en ʼn polisiebeampte, is Saterdag gedurende ʼn rooftog by die Randridge-winkelsentrum in Johannesburg geskiet en gewond.

Volgens luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, het ʼn groep van vyf gewapende mans omstreeks 10:30 die NWJ-juwelierswinkel by die sentrum binnegaan, hul wapens op die werkers gerig en juwele geroof.

Volgens Dlamini is die 56-jarige winkelbestuurder en ʼn eenjarige baba in die been geskiet. ʼn 47-jarige man is in die maag geskiet.

Die groep mans het in ʼn bakkie gevlug. Die polisie het hulle agterna gesit waartydens die polisiebeampte gewond is.

Kort na die jaagtog het die bestuurder van die voertuig waarin die rowers gevlug het, beheer daaroor verloor en gebots.

Vier verdagtes is in hegtenis geneem. Die polisie is nog op soek na die vyfde man. Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens en drie sakke met juwele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.