Hanelie Nel (50), van Kaapstad, is Dinsdag tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat sy haar dood vervals het om geld uit ʼn lewensversekeringspolis te bekom.
Nel is Dinsdag in die Kaapstadse streekshof gevonnis, berig die Cape Argus. Volgens die koerant is dit moontlik dat sy, kragtens die Strafproseswet, slegs agt maande hiervan sal uitdien weens die voorsiening wat gemaak word vir ʼn oordrag van die vonnis tot korrektiewe toesig onder goeie gedrag.
Die hof het gehoor dat sy op 15 September 2009 ʼn lewensversekeringspolis by Liberty Life uitgeneem het, en die waarde daarvan die volgende jaar, tot R3.6 miljoen, meer as verdubbel het. Sy het Doretha Kotze (59) as haar begunstigde aangedui.
Nel het toe Charlene van Graan (39) genader, wat in daardie stadium by Avbob Begrafnisdienste gewerk het, en haar oortuig om ʼn vervalsde sterftesertifikaat uit te reik in ruil vir R100 000.
Personeel by Liberty Life het opgemerk dat die plek van afsterf op die betrokke dokumente nie dieselfde was nie, en die polisie is ontbied. Hulle het bepaal dat Nel steeds leef.
Die Cape Argus het berig dat Van Graan tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is, wat opgeskort is op voorwaarde dat sy nie ʼn soortgelyke oortreding sal begaan nie.
Die saak teen Kotze is van Van Graan sʼn geskei, aangesien die hof nie oortuig was dat sy skuld erken het nie.
Wanneer gaan ons mense leer dat dit wat jy in die donker doen op die dakke uitgebasuin gaan word!!!!