Vier kinders glo in Noordwes vermoor

Die polisie in Hartbeespoortdam ondersoek tans die moord op vier kinders Sondag naby Skeerpoort, Noordwes.

“Volgens die inligting wat ons tans tot ons beskikking het, het die pa Saterdagaand omstreeks 22:00 by hul huis in Shaumburg-informele nedersetting, Skeerpoort, aangekom nadat hy ʼn sokkerwedstryd elders gaan kyk het,” het lt.kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. “Die drie kinders, onderskeidelik 2, 7 en 10 jaar oud, het reeds geslaap. Hulle het op die vloer in die vertrek waar die ma saam met ʼn 3-maandeouebaba op die bed geslaap het.” Die pa het glo toe na sy eie kamer gegaan om te gaan slaap.

Die pa sê hy het in die vroeë oggendure wakker geword van beweging en geluide in die huis, maar het aangeneem dit is sy vrou wat die babatjie versorg. Hy het glo omstreeks 09:00 Sondagoggend wakker geword, maar gesien die kinders slaap nog. “Die man was agterdogtig, omdat die kinders teen dié tyd gewoonlik reeds wakker is,” het Mokgwabone gesê. Die pa het toe na die slaapkamer gegaan en gesien die kinders ‘slaap’ steeds in dieselfde posisie as die vorige aand. Een van die kinders het skuim rondom die mond gehad.

“Hy het toe bevestig die kinders is dood. Sy vrou was nie in die huis nie en hy het nie geweet waar sy is nie,” het Mokgwabone bygevoeg. Die polisie is ontbied waar ʼn saak van moord vir verdere ondersoek geopen is.

Die vrou is Sondag laatmiddag sowat 1 km van Shaumburg aangetref waar sy in ʼn boom met ʼn rooi lap opgehang is. Die motief vir die voorval is nog onbekend en die ondersoek duur voort.

Intussen ondersoek die polisie in Atamelang ook ʼn saak van moord en ʼn geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur nadat ʼn paartjie se liggame Saterdag omstreeks 13:00 in ʼn huis opgespoor is.

ʼn Verbyganger het agterdogtig geraak toe ʼn sterk reuk uit die huis geruik kon word. Die persoon het een van die familielede gekontak voordat hy na die polisiestasie gegaan het. “Die vrou se familielid het glo by die toneel opgedaag waar sy die paartjie se liggame aangetref het. Die polisie het ook op die toneel aangekom. Die man se gedeeltelik ontbinde liggaam het op die vloer gelê en die vrou se liggaam, wat ook reeds begin ontbind het, is op die bed in ʼn slaapkamer aangetref,” het Mokwabone gesê.

Voorlopige ondersoek toon dat die vrou uitgebloei het weens die steekwonde aan haar liggaam. Vermoedelik het die vrou se maat haar met ʼn skerp voorwerp gesteek voordat hy homself met ʼn blou en wit-tou opgehang het. ʼn Stuk van die tou was nog om sy nek en die ander gedeelte aan die dakbalk.

Die motief vir die voorval is onbekend en die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.