Vier kinders wees gelaat na moord, selfmoord

Argieffoto

Vier kinders jonger as 15 jaar oud is wees gelaat nadat hul pa hul ma doodgeskiet en toe selfmoord gepleeg het.

Laurence Peters (43), ʼn senior beampte van die departement van onderwys, het sy vrou, Gcobisa (43) tydens ʼn argument in hul woonstel op die St Albans gevangenisgronde doodgeskiet, berig The Herald. Gcobisa was ʼn assistent direkteur van die departement van korrektiewe dienste by dié gevangenis en Laurence ʼn direkteur van die departement van onderwys se kantoor in King Williams Town.

Die kinders, tussen 8 en 15 jaar oud, is vir die feesseisoen by familie in Queenstown. Gcobisa is verlede maand van King William’s Town na Port Elizabeth verplaas. Laurence bly steeds in King William’s Town. Alhoewel die besonderhede nog nie duidelik is nie, sê die polisie die bure het die paartjie glo hoor stry voordat hulle die geweerskote Saterdag omstreeks 19:00 gehoor het.

Kapt. Stanley Jarvis, woordvoerder van die polisie, het gesê Laurence het Mandla Jam, direkteur van die departement van korrektiewe dienste gekontak en aan hom gesê dat hy Gcobisa vermoor het. Jam het die polisie in kennis gestel.

By die woonstel aangekom was die deur gesluit en Laurence het reeds in sy Audi gevlug. “ʼn Padblokkade is naby die Van Stadensbrug opgestel, aangesien beamptes by die gevangenis gesê het dat hy in die rigting van Jeffreysbaai gevlug het.

Die polisie het die deur afgeskop en Gcobisa op die kombuisvloer aangetref waar sy in die kop geskiet is. “ʼn Leë vuurwapenhouer is in die woonstel opgespoor, en die polisie was bekommerd dat Laurence met die vuurwapen gevlug het,” het Jarvis gesê. Die polisie het die padblokkade op die N2 in die rigting van Port Elizabeth geskuif in die hoop om Laurence se motor op te spoor. “Hulle het die Audi sowat 7km buite St Albans-tronk langs die N2 opgespoor en Laurence het langs die voertuig gelê.

Die polisie vermoed Laurence het homself geskiet. ʼn Pistool op die toneel is vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal wie die wettige eienaar van die vuurwapen was.

Zama Feni, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.