Vier mense is in Mmabatho vir die moord op die vrou van een van die mans in hegtenis geneem, het die polisie in Noordwes Dinsdag gesê.
Twee vroue, onderskeidelik 42 en 48 jaar oud, en twee mans, onderskeidelik 25 en 55 jaar oud is oor Paasnaweek in hegtenis geneem, het brigadier Thulani Ngubane gesê. Ketlagomang Ivy Molefe (50) is op 15 Maart deur haar eggenoot as vermis aangemeld toe sy die vorige dag nie van die werk af by die huis opgedaag het nie. Ngubane sê die polisie soek steeds na haar liggaam. Een van die verdagtes het egter erken dat sy motor in die moord gebruik is en dit is Vrydag met bloedvlekke opgespoor. Polisie wag nou vir die forensiese uitslae om te bevestig of die bloedvlekke aan Molefe behoort. In die tyd wat sy vermis geraak het, was sy in diens van die provinsiale departement van finansies. Die vier sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Mmabatho verskyn. -SAPA
Julle beweer om ‘n nuusdiens vir Afrikaners te wees. Ek sien nie juis enige kulturele belangstelling vir so’n berig nie, helaas.
Hallo Adriana, dankie vir jou terugvoer. Maroela Media is inderdaad ‘n kuierplek vir Afrikaanssprekendes, maar ons maak geensins daarop aanspraak dat die nuus wat ons bied, slegs vir Afrikaners en oor sake van kulturele belang vir Afrikaners is nie. Ons visie en missie stel duidelik dat ons ten doel het om nuus te bied wat relevant is vir (en nie oor nie) die Afrikaanssprekende se leefwêreld. Om ‘n geloofwaardige bron van nuus te wees wat met ander plaaslike nuusbronne te kan kompeteer, moet ons enige nuuswaardighede in ons nuus-afdeling dek. Die ander afdelings op Maroela, soos die boeke, kunste en musiek, fokus spesifiek op Afrikaanse produkte. In ‘n land waar misdaad aan die orde van die dag is, is ‘n berig soos hierdie, waar vier mense vir een moord in hegtenis geneem is, beslis iets wat ons gereelde besoekers graag sal wil lees en as relevant vir hul leefwêreld sal beskou. (Vir interessantheid: Vandat ons dit gepubliseer het ‘n rukkie terug, het 34 mense dit reeds gelees. Dis dus duidelik dat baie van ons besoekers dit wel relevant vind.) Vriendelike groete, Susan
So ek mag nie belangstel in dinge wat nie deel van my kultuur is nie. Goed, dankie, nou weet ek dit ook.