Vier PTA-winkelsentrums deur bomdreigemente geteister

Vier winkelsentrums in Pretoria het die afgelope twee maande elk ʼn bomdreigement ontvang.

Die Kolonnade-winkelsentrum in die noorde van Pretoria het op 10 Mei ‘n anonieme telefoniese bomdreigement ontvang. Die sentrum is dadelik ontruim. “Sinoville-polisie was eerste op die toneel, gevolg deur die SAPD se honde-eenheid, metropolisie en die bomopruimingseenheid,” het Monique van Rensburg, bemarkingsbestuurder van die sentrum, aan Maroela Media gesê. Die polisie kon nie enige tekens van springstof of ander verdagte items opspoor nie. Die anonieme persoon het aangedui dat die bom in die Checkers-area geplant is. Die sentrum is om 16:25 weer veilig verklaar. Klik hier om meer te lees.

Die Jakaranda-sentrum in die Moot-area in Pretoria het op 27 Junie ook ‘n anonieme telefoonoproep ontvang. Marietjie van Niekerk, woordvoerder vir die winkelsentrum, het aan Maroela Media gesê die FNB-tak in die sentrum het ‘n paar bomdreigemente ontvang voordat hulle daarop reageer het. Die sentrum is ontruim, maar die polisie kon weereens geen tekens van springstof of ander verdagte items opspoor nie. Die gebou is omstreeks 15:30 veilig verklaar. Van Niekerk meen die persone wat die bomdreigemente maak hou die reaksietye van polisie in die omgewing dop en hou ook dop hoe lank dit vat voordat ‘n sentrum ontruim is.

Die Kwagga-winkelsentrum in Pretoria-Wes het Maandagoggend [8 Julie] sy bomdreigement ontvang. Die Standard Bank-tak, wat nie in die sentrum is nie, het ‘n anonieme telefoonoproep ontvang en die bank en winkelsentrum is ontruim. Die polisie se bom- en honde-eenheid is ontbied en hulle het die sentrum en bank veilig verklaar nadat geen springstof of verdagte items opgespoor is nie.

Die Menlyn-winkelsentrum het Maandag [8 Julie] ook sy bomdreigement ontvang waarna die hele sentrum ontruim is. Die polisie se bom- en honde-eenheid is ontbied, maar geen springstof of verdagte items is opgespoor nie. Die sentrum is later die middag veilig verklaar. Klik hier om meer te lees.

‘n Grootskaalse ondersoek sal egter nie deur die polisie van stapel gestuur word nie. Lt.kol. Katlego Mogale, provinsiale woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê bomdreigemente word elk op sy eie meriete hanteer. “Elke bomdreigement word afsonderlik hanteer. Indien daar nie springstof opgespoor word nie, word die dreigement nie verder ondersoek nie,” het sy gesê. Die polisie sal glo wel die telefoonoproepe nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kaspaas ·

Trevor Manuel het dan 2 weke gelede gesê ons moet almal soos Mandela wees. Solank die goed nie nog onskuldige mense dood nie. Eendag is die mense dalk ernstig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.