Vier seuns is Woensdagmiddag in Kliptown, Soweto, gered nadat hulle in ʼn dreineringstelsel vasgesit het, het die Johannesburgse noodbestuursdienste gesê.
Robert Mulaudzi, woordvoerder vir EMS, het gesê kinders het die gemeenskap in kennis gestel dat die groep seuns, tussen die ouderdom 8 en 14 jaar oud, in die drein vassit. Nadat hulle die hele gebied deursoek het, het EMS die seuns opgespoor en vir ʼn uur lank gesukkel om hulle te bevry. Die seuns was ongedeerd. Een van die seuns het aan EMS gesê dat die kinders gewoonlik in die oop dreineringstelsel speel. “Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie die kinders in die dreine te laat speel nie, aangesien dit gevaarlik is,” het Mulaudzi gesê. -SAPA