Vier sit lank vir Boksburg-vrou se wrede moord

Nettie Miller Foto deur die familie aan Maroela Media verskaf

Nettie Miller Foto deur die familie aan Maroela Media verskaf

Vier mans is Donderdag in die Palm Ridge-landdroshof elk tot 55 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Nettie Botha-Miller (74) van Boksburg in Gauteng.

Botha-Miller (74) is op 21 November 2012 in haar huis in Roseden aangeval en vermoor. Avhashoni Lirumo (27), Chicco Mandlathu (27), Rodney Baloyi (25) en Balelihle Mdidimba (27) is omtrent twee weke ná haar moord in hegtenis geneem.

Haar moordenaars het met ʼn koevoet deur vier deure gebreek om by haar kamer uit te kom waar hulle haar oorval het. Botha-Miller het probeer terugbaklei, maar sy was nie sterk genoeg om hulle af te weer nie. Die bejaarde is verwurg, en met ‘n kussing versmoor. Hulle het haar ook met ‘n verlengingskoord vasgebind en haar in die gesig geslaan. Hulle het haar só hard geslaan dat haar oordromme gebars het, en daar bloed by haar ore uitgeloop het. Die mans het ook ‘n sykous in haar mond gedruk. Die mans het haar huis geplunder en verskeie items gesteel.

Regter Dimpheletse Moshidi het Donderdag tydens sy vonnisoplegging gesê dat haar moord só wreed was dat hy vir lank nie kon eet nie.

Linda Naudé, Botha-Miller se dogter, het ná die vonnisoplegging aan Maroela Media gesê sy is verlig dat geregtigheid geskied het. “Ek is gelukkig en tevrede met die uitspraak,” het Naudé gesê. “Dit gee my hoop om te sien dat daar nog geregtigheid in die land kan geskied. Dit was ʼn moeilike saak, omdat die skuldiges handskoene gedra het, en daar geen vingerafdrukke op die toneel was nie. Maar ek is vol lof vir die Boksburg-speurtak en advokaat Deon Barnard, wat namens die staat die verhoor hanteer het. Hulle het die hele legkaart bymekaar gelas sodat die vier mans nie kon loskom nie,” het sy gesê.

Naudé het ook regter Moshidi bedank vir die menslike manier hoe hy die verhoor hanteer het en vir sy regverdige denkwyse.

Lees ook:
Botha-Miller se ‘moordenaars’ vasgetrek
Bejaarde vrou het glo terugbaklei
‘Rowers’ tart familie glo ná hulle bejaarde vermoor

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rondom Lelik ·

Indien ek hier sou kommentaar lewer sluit hulle my vir baie lank toe. So dit is soms beter om net sti te bly. DREK

Peter Says ·

Rondom L, ek deel jou sentiment, bly ook maar liewer stil.

Jasper ·

Moord, verkragtings en ander geweldsmisdade het nou allerdaags geword en skuldiges kry net tronkstraf.
Meeste van die goed voel n vy om tronk toe te gaan want daar word vir hom gesorg. n Straf moet iets wees wat n oortreder afskrik en bestraf vir sy dade.
40, 50 Jaar gelede was daar baie minder sulke gevalle omdat jy geweet het jy kan die doodstraf opgelê word.
Moenie opvoeding en omstandighede blameer nie. 50 Jaar gelede was daar ook haaglike omstandighede en armoede maar minder van die gemors wat ons tans beleef. BRING DIE DOODSTRAF TERUG VIR MOORD EN VERKRAGTING !!!

jackie Grobler ·

Hierdie was my oorlede ma se suster, die dierbaarste, saggeaardste mens wat ek nog geken het, sy het nie n enkele van die wreedhede verdien nie, en geen mens ooit leed aangedoen!!! Hoop dat hulle nie net hulle aardse straf sal uitdien nie maar ook veraltyd in die poele van die he’ll sal deurbring, want hierdie onmenslike persone, glo ek nie sal by die hemelpoorte toegang kry!!! Dink aan my niggies met die verskriklike seer wat hulle moes deurmaak! Rus sag by God ons dierbare Tannie Nettie!

AmY ·

Wat ‘n jammerte die doodstraf is afgeskaf!!! Die kriminele het mos meer regte as die slagoffers. Daai tannie het geen kans gestaan teen hulle nie.

Gelukkig sal hulle nie weer die buitekant van ‘n tronk sien nie.

Net jammer hulle gaan nou gratis boarding en lodging kry.

Maar een ding is verseker: DIE HEL WAG VIR HULLE!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.