Vier skole in Oos-Kaap gesluit

Onderrig is by vier skole in die Oos-Kaap gestaak.

By drie van dié skole is daar glo ʼn tekort aan onderwysers, het die Daily Dispatch berig. By die vierde skool het die departement van onderwys glo nie sy belofte om ʼn heining by die skool op te rig en ʼn sekuriteitswag aan te stel, nagekom nie.

“Daar is sedert Maandag nog geen klasse by Hoërskool Sosebenza in Lady Frere aangebied nie,” het Linda Nlanganiso, lid van die skoolbeheerliggaam, gesê. “Sommige van die klasse het glad nie onderwysers nie, alhoewel die aantal leerlinge van 160 na meer as 300 bykans verdubbel het.” Sy het gesê ontstoke ouers en leerlinge het Maandag in die strate betoog en twee buurskole, naamlik Laerskool Rietspruit Senior en St Augustines Junior Sekondêre Skool, laat sluit. “Sedert Maandag was daar dus nie by een van hierdie skole klasgehou nie, en ouers vergader vandag met die streeksdirekteur om die situasie te bespreek,” het Nlanganiso gesê.

Leerlinge het twee weke laas skoolgegaan by Tipini Junior Sekondêre Skool in Mthata. Volgens die Daily Dispatch het die provinsiale departement van onderwys onderneem om ʼn heining op te rig en ʼn sekuriteitswag aan te stel nadat ʼn onderwyser voor haar klas met ʼn mes gedreig en beroof is. Die departement het nie dié beloftes nagekom nie. “Die departement kom agter daar is ʼn neiging dat skole sluit. Dit het in Port Elizabeth en Uitenhage begin,” het Loyiso Pulumani, woordvoerder van die departement, gesê. “Die departement kan dit nie goedkeur nie, maak nie saak wat die rede is nie, aangesien dit meer sleg as goed doen. Ons standpunt bly dieselfde. Ons kan nie sulke onwettighede goedpraat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.