Vier soek ná Bloemfontein-plaasaanval

geweerDie Valke in die Vrystaat is op soek na vier gewapende verdagtes wat Woensdagaand ʼn familie op hul plaas, Wolfskop in Bainsvlei, Bloemfontein, aangeval het.

Konst. Maselela Langa, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat die vier verdagtes die familie omstreeks 19:00 in hul huis oorval het. “Die verdagtes het deur die agterdeur toegang tot die huis bekom,” het Langa gesê. “Hulle het die pa, ma, seun en susterskind in die eetkamer in gedwing en geld geëis. Een van die verdagtes was met ʼn vuurwapen gewapen en die ander drie met messe.”

Die rowers is ingelig dat die familie nie kontant by hulle het nie. Hulle het te voet gevlug met ʼn skootrekenaar, iPad-tabletrekenaar, drie selfone en die vrou se handsak.

“Die slagoffers is nie ernstig beseer tydens die aanval nie,” het Langa gesê.

Die Valke versoek enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisname kan lei om hulle by 082 557 5746 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.