Vier mense is Saterdag geskiet nadat vyf rowers ʼn supermark in Pretoria beroof het.
Kaptein Pinky Tsinyane, ʼn polisiewoordvoerder van Gauteng, sê die roof het omstreeks 20:25 by ʼn supermark in Sunnyside, op die hoek van Rissik- en Meerstraat, plaasgevind.
“Vyf gewapende mans het die winkel binnegegaan en op geld aangedring. Hulle het verskeie skote geskiet en vier mense in die proses getref. Die winkel se bestuurder en drie kliënte is beseer,” het Tsinyane aan Maroela Media gesê. Die verdagtes het in ʼn wit Toyota Corolla met ʼn onbekende hoeveelheid kontant gevlug.
Die bestuurder van die winkel is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal opgeneem. Die drie kliënte is in ʼn stabiele toestand.
Die polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Kan dit dalk dieselfde bende rowers wees wat op ‘n kleinhoewe toegeslaan het en die man doodgeskiet het vir ‘n selfoon?