Vier vas vir ontvoerde diabeet se moord

Tony Teixeira

Vier verdagtes is in verband met die moord op Tony Teixeira, wat op 14 Maart van sy huis in Naudeville, Welkom, ontvoer is, in hegtenis geneem.

“Die polisie het op ‘n wenk van die publiek reageer en omstreeks 00:00 drie verdagtes in Meloding, en een verdagte in Virginia aangekeer,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Welkom, gesê. Die verdagtes is tussen 24 tot 46 jaar oud. “Meeste van die gesteelde ware, insluitend die televisiestel, selfoon, vuurwapen en ander elektroniese ware is ook opgespoor.”

“Die polisie het beslag gelê op die vuurwapen wat vermoedelik in die moord gebruik is,” het Thakeng bygevoeg. Die wit Soyat-bakkie word steeds vermis en die ondersoekspan volg elke leidraad op om die voertuig op te spoor.

Teixeira is op 14 Maart omstreeks 01:10 deur vier mans met vuurwapens ontvoer. Sy liggaam is op 20 Maart omstreeks 13:30 langs Saaiplaasweg, Virginia, deur ‘n sekuriteitswag van ‘n myn opgespoor. Hy is in die kop geskiet en sy arms en bene was vasgebind. Sy liggaam het reeds begin ontbind.

Teixeira is vermoedelik ontvoer as losprys vir die korrekte bankkaartpinkodes wat die verdagtes by sy verloofde, Ilona Combrink, wou kry. Sy familie het vir sy lewe gevrees omdat hy ‘n diabeet is en sesuurliks insulien moes ontvang.

Enigiemand met inligting oor die bakkie word versoek om met ao. Saayman of kol. Ansie Foley in verbinding te tree by 082 372 0423.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.