Vier vas vir polisievangwa-bom

Die foto is deur @johannesmyburgh op Twitter gelaai.

Vier mans gaan vandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn in verband met die polisievangwa wat Maandag tydens ʼn mislukte ontsnappingspoging opgeblaas is.

Maroela Media het vroeër berig drie gevangenes is dood en 14 beseer tydens die voorval. Die vangwa het gevangenes van ʼn hof in Randburg terug na die Johannesburg Sentraal-gevangenis vervoer toe die ontploffing plaasgevind het. Die polisie ondersoek nog watter toestel of plofstof gebruik is en hoe dit op die vangwa beland het. Die ontploffing het by die Naturena-afrit op die Golden Highway gebeur en het die agterkant van die vangwa oopgeruk. Die bestuurder het egter aangehou ry tot by die gevangenis. Twee gevangenes kon daarin slaag om te ontsnap maar is later weer in hegtenis geneem. Tom Moyane, nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, sê dit is een van die waaghalsigste ontsnappingspogings wat hy nog ooit gesien het.

Brigadier Neville Malila het Donderdag gesê die polisie het vier verhoorafwagtende verdagtes identifiseer wat moontlik vir die voorval verantwoordelik kon wees. Die mans is almal in hulle twintigs en word aangekla van moord, poging tot moord, ontsnapping, besit van plofstof en opsetlike saakbeskadiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.