Vier vas wat hul as polisie voordoen, vragmotor kaap

Drie mans en ʼn vrou is in hegtenis geneem nadat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het en glo ʼn vragmotor, wat sigarette ter waarde van R4 miljoen vervoer het, naby Pretoria gekaap het.

Brig. Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder, sê die vragmotor en ʼn voertuig wat die vragmotor vergesel het, is Woensdag in Boschkop, oos van Pretoria, gekaap.

“ʼn Groep van 10 mense het saamgewerk om die kaping uit te voer. Die voertuie is gekaap nadat hulle deur ‘beamptes’ van die pad af getrek is,” het Malila gesê. “Die bestuurder van die vragmotor is in Soshanguve vrygelaat. Die twee mense wat in die begeleidingsvoertuig was, is in Mamelodi losgelaat.”

Malila het gesê die vragmotor is later verlate in Verena, in Mpumalanga, opgespoor. Die polisie het beslag gelê op 200 bokse sigarette, meubels en ʼn toestel om ʼn satellietopsporingtoestel se sein te versteur.

Die vier verdagtes is op ʼn plaas in Bronkhorstspruit in hegtenis geneem en moet Vrydag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort en die polisie verwag om meer inhegtenisnames te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.