Vier verdagtes vas na moord op Chanelle Henning

Chanelle Henning

Die waarnemende polisiekommissaris in Gauteng, maj-gen Nobesuthu Masiya, het tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak dat vier verdagtes in hegtenis geneem is weens die moord op Chanelle Henning.

Masiya sê een van die verdagtes is ʼn 30-jarige polisiebeampte van die Hercules-polisiestasie, wes van Pretoria. Die beampte word glo reeds ondersoek nadat hy twee moorddossiere gesteel het. Masiya sê die vuurwapen wat vir die moord gebruik is, is ook gevind. Sy sê die polisiebeampte het erken dat hy die sneller getrek het van die wapen wat Henning doodgemaak het. Die beampte was nog in diens van die polisie toe hy Henning glo geskiet het. Hy is Maandag geskors. Masiya het ook aan die media gesê dat Henning (26) nie dwelms gebruik het soos wat deur sekere media berig is nie. The New Age het Donderdag berig dat ‘n Nigeriese dwelmbaas glo die mans betaal het om haar dood te maak.
Masiya het ook bekendgemaak dat die motorfiets waarop die verdagtes die oggend van Henning se moord gery het, nog nie opgespoor is nie. Die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Peet van der Spuy, was ook by die mediakonferensie. ‘n Emosionele roudiens is Maandag vir Henning in Hartbeespoort gehou. Die polisie het einde verlede week identikits uitgereik van die twee mans wat Henning glo in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet het. Henning is verlede week doodgeskiet kort nadat sy haar seuntjie, Benjamin (5), by die Morning Star Montessori-kleuterskool afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het Henning glo agtervolg en haar deur die venster van haar motor doodgeskiet. Henning het glo vroeër vir haar ouers gesê sy vermoed sy word agtervolg. Die motorfietsryers is glo voor die moord in die omgewing opgemerk. Henning se ouers het intussen volgens berigte toesig verkry oor Benjamin nadat hy eers in ʼn plek van veiligheid geplaas is na die moord op sy ma. Rapport het Sondag berig dat Benjamin glo sy ouma en oupa vertel het dat hy die moord aanskou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.