Vier verkragting-video minderjariges op R500 borgtog vrygelaat

Vier minderjariges wat daarvan beskuldig word dat hulle vroeër vanjaar ʼn 17-jarige verstandelik gestremde meisie in Soweto verkrag het, is vanmiddag deur die Roodepoortse landdroshof op borgtog vrygelaat.

“Hulle is elkeen op R500 borgtog, onder huisarres, vrygelaat. Hulle gaan na ander woongebiede vir hul eie veiligheid verhuis,” het Carina Coetzee, staatsadvokaat, aan die media gesê.

“Die aanklagte wat die staat teen hulle borgaansoek gelê het, het nié verkragting ingesluit nie. Dit was vir ander oortredings onder die wet op seksuele oortredings.”

Volgens Coetzee behels die klagtes ondermeer om ʼn tiener vir seksuele omgang te betaal, om kinders vir kinderpornografie te gebruik asook die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.

“Ons as die Nasionale Vervolgingsgesag sal die saak verder bespreek en besluit watter aanklagte voorkeur gaan geniet.”

Die borgtogaansoek van die minderjariges, een 13 jaar oud en die ander drie 17 jaar oud, het Donderdag plaasgevind.

Die saak teen die drie mans, een 18 jaar oud en die ander twee 19 jaar oud,  is tot 20 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle het nie vir borgtog aansoek gedoen nie.

Die drie 17-jariges sal ook na verwagting dan in die hof verskyn.

ʼn Verslag van die 13-jarige se kriminele hoedanigheid was nie beskikbaar nie en dit gaan glo ʼn maand neem om op te stel.

“Die 13-jarige sal weer op 17 Mei in die hof verskyn om te sien hoe ver die verslag vorder,” het Coetzee gesê.

Verwante artikels:
–   Sewe vas ná video oor ‘bendeverkragting’
–   Bendeverkragting-video: Meisie gevind
–   Bendeverkragting-video: Saak uitgestel
–   Nuuskommentaar: Verkragting van gestremde, padwoede en anomie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.