Vierde grootste SA-reservaat beplan

Die vierde grootste Suid-Afrikaanse natuurreservaat word beplan.

Die vierde grootste Suid-Afrikaanse natuurreservaat word beplan.

Planne word beraam om ʼn 120 000-hektaar sentraalplatorand-wildreservaat op te rig. Dié reservaat sal Suid-Afrika se vierde grootste reservaat wees, het die toerisme- en parkagentskap in Mpumalanga (MTPA) gesê.

Die voorgestelde reservaat sal van die N4 Schoemanskloofpad tot by die R37 Long Tom-pasweg strek, het ʼn SAPA-korrespondent berig. “Alhoewel die idee nog maar in sy babaskoene staan, is die MTPA van plan om dié reservaat ʼn realiteit te maak,” het Brian Morris, seniorbestuurder vir beskermde gebiede van die MTPA, gesê.

ʼn Tussentydse doelwit is om die hele voorgestelde gebied te omhein en beheerbare getalle wild, insluitend impalas, zebras, blouwildebeeste, elande en kameelperde in die gebied vry te laat.

Oscar Osberg, bestuurder van Sodwala Lodge, wat gehelp het om die voorstel vir die nuwe reservaat te ontwikkel, het gesê die uiteindelike doel sal wees om die Groot Vyf in die gebied los te laat.

Plaaslike inwoners en ander belanghebbendes is in Mei-maand genader om hul kommentaar en raad in te win oor die moontlike reservaat.

Die grond word tans onder andere gebruik vir bosbou, boerdery en toerisme. Drie bestaande wildreservate, naamlik Buffelskloof-, Makobulaan- en Wonderkloof-natuurreservaat val tans binne die beoogde gebied.

Philip Owen, voorsitter van die Houtbosloop Environment Action Link, het gesê die reservaat sal uniek wees, aangesien dit aspekte van die Laeveld, Middelveld en Hoëveld sal insluit. “Die reservaat sal eko-toerisme en werkskepping bevorder. Daar is meer as genoeg plek om diere te akkommodeer en almal ondersteun die inisiatief,” het Owen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Pretorius ·

Uitstekende idee. Ons sal baie beslis die reservaat besoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.