Vierde plaasaanval sedert begin van maand

Nog ʼn bejaarde boer is Saterdagaand op sy plaas naby Kuruman, in die Noord-Kaap, aangeval. RSG berig Joseph van Heerden het ernstige beserings opgedoen na vier verdagtes hom aangeval en beroof het. Dit is die vierde plaasaanval sedert die begin van die maand wat by die polisie aangemeld is.

Die verdagtes het glo in Van Heerden se bakkie gevlug, maar die voertuig is later verlate naby Vryburg gevind. Die polisie het egter kort daarna vier verdagtes in verband met die aanval in hegtenis geneem.

Na wat verneem word, is Van Heerden in ‘n bestendige toestand in die hospitaal. Sy regterarm is glo erg beseer en dokters vermoed ʼn senuwee is beskadig.

‘n 57-jarige boer van Lichtenburg in Noordwes is vroeër die maand op sy plaas aangeval en beroof. ‘n Bejaarde egpaar is kort daarna op hulle plaas naby Ladysmith in KwaZulu-Natal aangeval. ‘n 77-jarige boer is verlede week doodgeskiet en sy vrou gewond in ‘n aanval op hulle plaas naby Baltimore in Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.