Die laaste van vier mans is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord van ʼn 26-jarige man.
Ao. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, sê drie mans is aanvanklik in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ʼn 26-jarige man van Naledi in Mei vanjaar ontvoer het. Die mans het hom glo in Mpumalanga aangehou en ʼn losprys van sy ouers geëis. Makhubela sê die laaste man wat in hegtenis geneem is, het die polisie na die ontvoerde man se liggaam geneem. Hy sê die liggaam is naby ʼn weermagskietbaan in Middelburg gevind. Die liggaam is Saterdagoggend opgegrawe. “Daar sal DNS-toetse gedoen word om te bepaal of die liggaam wel die van die 26-jarige man is wat ontvoer is.” Makhubela sê een van die verdagtes het intussen ʼn staatsgetuie geword terwyl die ander drie mans Maandag in die Protea-landdroshof sal verskyn. Hulle word van ontvoering en moord aangekla.