Vierjarige brand erg met kookwater

Nienke Pelser (4)

Nienke Pelser, ʼn vierjarige dogtertjie, lê sedert 8 Februarie in ʼn staatshospitaal in Bethlehem nadat sy erg deur kookwater gebrand het.

Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, sê Nienke het tweedegraadse brandwonde opgedoen toe ʼn ketel met kookwater oor haar uitgeval het. Sy het glo oor ʼn toonbank gestrek om by iets uit te kom toe die ketel omgeval het.

“Sy is tans in die Dihlabeng-staatshospitaal. Die hospitaal het egter nie die regte wondsorgprodukte tot hul beskikking nie. Sy skree al sedert Vrydag van die pyn en hulle gee haar net Panado,” het Du Plooy aan Maroela Media gesê.

“Ek het reeds met verskeie dokters in Bloemfontein gepraat. Hulle sê dit help nie ons skuif haar Pelonomi-hospitaal toe nie want hulle het presies dieselfde probleem indien nie erger nie. Hero Burn gaan nou die regte wondsorgprodukte aankoop sodat Nienke se wonde vogtig kan bly wat gaan help vir die pyn. Ons gaan ook probeer om ‘n bekwame wondsorgsuster te kry wat die wonde daar kan gaan behandel,” het Du Plooy gesê.

Sy sê egter wondsorgprodukte is baie duur. Hero Burn is ʼn nie-winsgewende organisasie wat omsien na brandslagoffers in nood en is afhanklik van donasies om hierdie produkte aan te koop. “Elke R10 gaan help om omstandighede vir die engeltjie makliker te maak,” het Du Plooy gesê.

Vir meer inligting oor die organisasie asook hul bankbesonderhde besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wilma Venter ·

Annierie van Hero Burn Foundation is die mees onbaatsugtigste mens wat ek nog teengekom het. Ons by PROJEK KOMBERSIE (‘n Projek op Facebook wat trooskombersie verskaf aan brandoorlewendes) is baie baie lief vir haar.

Este Van Niekerk ·

(asseblief) stuur vir my meer besonderhede oor Nienke van Bethlehem en hoe ons kan help (asseblief).

Baie dankie

Este van niekerk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.