Vierjarige burgemeester kan weer verkies word

Robert “Bobby” Tufts, burgemeester van Dorset in Minnesota

Robert “Bobby” Tufts (4), die burgemeester van Dorset in Minnesota, Amerika, het homself vir ʼn tweede termyn as burgemeester beskikbaar gestel.

Bobby was maar drie jaar oud toe hy verlede jaar as burgemeester in dié dorpie, wat minder as 30 inwoners het, verkies is, berig standard.co.uk. Die dorpie, wat as die restaurant-hoofstand van die wêreld bekendstaan, het geen formele regering nie.

Dorpenaars trek elke jaar tydens die “Taste of Dorset”-fees ʼn naam uit ʼn hoed en die wenner is die burgemeester. Enigiemand kan, teen $1 per stem, soveel keer stem soos hulle wil. Vanjaar se ‘verkiesing’ vind op 4 Augustus plaas.

“Hy’s eintlik baie goed. Dis goeie bemarking vir die dorp,” het sy ma, Emma Tufts (34), gesê.

Bobby se hooftaak as burgemeester is om besoekers aan Dorset te verwelkom. Die dorp is hoofsaaklik bekend vir sy vakansieoorde, toerismebedryf en restaurante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.