Viljoen red Sharks in Durban

’n Laat drie deur die Sharks-heelagter Riaan Viljoen het die Durbaniete ’n sege van 22-20 oor die Nieu-Seelandse Blues op Kingspark laat behaal.

Die tweede helfte van die wedstryd het egter aan die manne van Auckland behoort met gebiedsvoordeel en balbesit wat deur hulle oorheers is. Die Sharks het hul ritme ná die aanvang van die tweede 40 minute verloor nadat hulle betreklik gemaklik met 17-5 voor was toe halftyd aangebreek het. Die Sharks se skrum was egter deurentyd verwoestend en hul voorspelers het beslis die platform vir hierdie oorwinning geskep. Marcell Coetzee het immers die eerste drie van die wedstryd in die 23ste minuut gedruk nadat die Sharks-voorspelers se rolmaalbeweging vanaf ‘n lynstaan nie deur die Blues gestuit kon word nie.

Die tuisspan se skrumskakel Charl McLeod het etlike minute daarna homself deur ‘n paar Blues-verdedigers se arms gewurm om sy span se tweede drie te druk. Patrick Lambie het die telling 14-0 gemaak. Kort daarna het die besoekers se tamaai vleuel, Frank Halai, sy span se rekening geopen toe hy in die hoekie oorgeduik het met die ligte Lambie wat nie hierdie reus se kraglopie kon stuit nie. Kort ná halftyd het Halai ’n bykans identiese drie gaan druk met Lwazi Mvovo wat hierdie keer vergeefs probeer keer het.

’n Sirene moes sekerlik by die Piesangboere afgegaan het toe die verwoestende All Black-vleuel Renee Ranger die bal naby die doellyn opgepik en nonchalant deurgedraf het vir die Blues se derde drie. Baden Kerr het die telling 17 elk gemaak. Ranger het selfs die Sharks-flank Jean Deysel se trui van sy lyf af geskeur en Deysel moes vir ’n paar minute kaal bolyf op die veld rondhardloop – tot groot vermaak van die Sharks se vroulike ondersteuners op Kingspark. Kerr het ook in heirdie periode die Blues met 20-17 laat voorloop danksy ’n strafskop.

Die laaste paar minute was ’n harwar soos die Sharks die bal naby die Blues-doellyn probeer lewendig hou het om te gaan druk en te wen eerder as om met ’n strafskop voor hul tuisskare gelykop te speel. Hul geduld en waagmoed is beloon toe Viljoen in die 79ste minuut oorgeduik het om die sege te verseël. Beide hierdie spanne is egter nie ernstige aanspraakmakers op hierdie jaar se Super15-titel nie. Die Sharks is negende op die algehele punteleer, die Blues in die agtste plek en albei is derde in hul onderskeie nasionale konferensies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.