Jannie du Plessis, die boer van Villiers wat Sondagoggend geskiet en saam sy vrou vir agt ure lank in ʼn kluis toegesluit is, se linkernier is suksesvol verwyder.
Du Plessis se seun, Jannie jnr., het Woensdag aan Maroela Media bevestig sy pa is “die eerste en grootste hekkie oor van vele wat voorlê”. “Onder omstandighede gaan dit baie beter. Die operasie het goed gegaan en my pa se dokters is tevrede met sy toestand. Hy gaan Donderdag of Vrydag weer opereer word,” het Jannie jnr. gesê. Du Plessis is steeds in die intensiewesorg-eenheid van die Unie-hospitaal in Alberton.
Stinnie sterk tans by haar sussie in Frankfort aan. Sy kry nog behandeling vir skok en trauma. “Met haar gaan dit ook darem beter, ons het ʼn ongelooflike goeie ondersteuningsnetwerk en is daarvoor ewig dankbaar,” het hy bygevoeg.
Du Plessis en sy vrou Stinnie (59) is Sondagoggend omstreeks 04:00 by hul plaashuis aangeval. Sy nier moes verwyder word nadat hy tydens die aanval in sy maag geskiet is. Lees meer hier.