Vlaag van plaasaanvalle in die Vrystaat ontstellend

“Vrystaat Landbou veroordeel die moorde en aanvalle op boere – ongeag of hul lede is of nie! As organisasie, verwelkom ons premier Ace Magashule se veroordeling van die moorde en aanvalle,” aldus Kobus Breytenbach, voorsitter van die unie se wet- en ordekomitee.

“Die komitee vergader Woensdag, 6 Februarie  om die moorde en aanvalle te analiseer en met moontlike konstruktiewe voorstelle na individue, landbouverenigings en die SAPD te gaan. Dit is onaanvaarbaar dat die SAPD die landbouers nie meer aggressief ondersteun rakende die kwessie nie.

“‘n Beraad in ons provinsie met politici, die SAPD en ander betrokke rolspelers is noodsaaklik om beter meganismes en samewerking met die SAPD en gemeenskappe daar te stel om dit te probeer verhoed. Versoeke hiervoor is reeds vanaf grondstrukture ontvang.

“Graag doen ons weereens ‘n beroep dat boere paraat sal wees en by mekaar betrokke sal wees in hul omgewing. Boere is grotendeels aangewese op hul eie veiligheid, wat deur Vrystaat Landbou en die SAPD strukture ondersteun kan word.”

Intussen is berig dat Gert Van Wyk, ‘n seun van ‘n voormalige President van Agri Gauteng, sy familie en werkers is gister op hul plaas in die Bapsfontein omgewing aangeval terwyl hulle in ‘n mielieland gewerk het. Die plaasbestuurder is in die aanval doodgeskiet. Sy naam word weerhou totdat sy naasbestaandes in kennis gestel is. Van Wyk self is geskiet, ernstig gewond en na ‘n hospitaal in Kemptonpark afgevoer waar hy in ‘n ernstige toestand in die intensiewe sorg eenheid opgeneem is. Van Wyk se vrou is in die aanval in die plaaskantoor toegesluit maar nie fisies aangerand nie. Die aanvallers, wat hulself na wat berig word as mieliekopers voorgedoen het, het met ‘n onbekende hoeveelheid geld en goedere weggekom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.