Vlaag van verkragtings in Noordwes kommerwekkend

ʼn Vlaag van ten minste 13 verkragtings sedert die begin van die naweek in Noordwes is “kommerwekkend” het polisie in die provinsie Dinsdag gesê.

Kolonel Emelda Setlhako sê die polisie is besorgd nadat 10 verkragtings oor die naweek aangemeld is. ʼn Tradisionele geneesheer is Sondag in hegtenis geneem nadat hy glo een van sy vakleerlinge by Ipelegeng buite Schweizer-Reneke verkrag het. Die geneesheer het glo ʼn groep vakleerlinge vir opleiding na ʼn berg geneem en hul toe in groepe van twee-twee verdeel. Hy het die pare in verskillende rigtings gestuur en toe na bewering die vakleerling wat hy saam met homself in ʼn groep ingedeel het, verkrag. Die geneesheer sal Donderdag in die landdroshof in Schweizer-Reneke verskyn.

ʼn Man (38) is Maandag in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn 74-jarige vrou verkrag het. Die man, wat aan die vrou bekend was, het glo in haar huis ingestorm, haar met ʼn stok begin slaan en toe verkrag, het Setlhako gesê.

ʼn 21-jarige man is in Ganyesa naby Vryburg in hegtenis geneem nadat hy glo sy vriendin Maandag verkrag het. Die vrou het langs die pad gestaan toe die man haar in die bosse ingetrek en haar toe glo aangerand en verkrag het. Hy sal binnekort in die landdroshof in Ganyesa verskyn.

Die polisie is ook op soek na ʼn man wat Maandag glo ʼn 20-jarige vrou in Kanana naby Orkney verkrag het. “Volgens inligting het die slagoffer saam met ʼn vriend huis toe gestap toe die verdagte hulle genader, ʼn mes uitgehaal het en die slagoffer gegryp het,” het Setlhako gesê. Die verdagte het glo haar vriend weggejaag voordat hy haar in ʼn bos ingesleep en toe verkrag het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.