Vlieënier geskors ná hy by verkeerde lughawe land

Die vlieënier moes by die Minangkabau-lughawe in Indonesië geland het.

‘n Vlieënier is geskors nadat hy ‘n passasiersvliegtuig in Indonesië Saterdag by die verkeerde lughawe geland het.

Die Sriwijaya-vliegtuig, met sy 96 passasiers en ses bemanningslede, moes by die Minangkabau Internasionale Lughawe in Padang land, maar het toe by die Tabing-lugmagbasis, sowat 12 km verder, geland. “Die voorval is baie ernstig en baie gevaarlik vir passasiersveiligheid,” het Bambang Ervan, woordvoerder vir die ministerie van vervoer, gesê. Volgens Ervan het die lugvaartowerheid ook ‘n ondersoek van stapel gestuur.

“Die vlieënier, wat vir die kort vlug na Padang by Medan in Noord-Sumatra-provinsie opgestyg het, is geskors,” het Ervan gesê. Die man, wat glo nie ‘n boorling van Indonesië is nie, se nasionaliteit is nie bekend gemaak nie. “Ons gaan hom vir tyd en wyl nie toelaat om te vlieg nie, en hy sal na verwagting binnekort ‘n verduideliking aan die lugvaartveiligheidsdepartement moet gee,” het hy bygevoeg.

Lugverkeerbeamptes by Minangkabau-lughawe word ook vir hul rol in die flater ondersoek.

Indonesië se lugvaartveiligheidsrekord laat veel te wense oor, met verskeie noodlottige ongelukke oor die afgelope paar jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.