Telo Steyn, ʼn 49-jarige ervare vlieënier, is oor die naweek dood nadat die vliegtuig waarmee hy ʼn brand naby Piet Retief in Mpumalanga bestry het, neergestort het.
Steyn het Saterdagmiddag met ‘n Dromader Firebomber gevlieg toe hy in ʼn dik rookwolk ingevlieg het, het Beeld Maandag berig.
Nico Pienaar, die eienaar van ʼn plaaslike brandbestrydingmaatskappy, het gesê Steyn het meer as 25 jaar vliegondervinding. Steyn het ʼn week voor die tragedie vir Pienaar in Piet Retief begin werk.
“Die rook was baie dik. Hy het in die wolk in gevlieg en net verdwyn,” het Pienaar gesê. Volgens Pienaar is die wrak van Steyn se eensitplekvliegtuig 20 minute nadat hy verdwyn het, opgespoor.
Jacs van Rooi, ʼn vriend van Steyn, het gesê die vliegtuig het blykbaar grond toe getol en tussen ʼn klomp klein bome te lande gekom.
Die burgerlike lugvaartowerheid ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
– Sapa