Vriende en familie van Bryan Simms van Midrand en sy seun wie se ligte vliegtuig meer as tien dae gelede oor Mosambiek vermis geraak het, vra vrywilligers om te help met die soektog.
Maroela Media het vroeër berig Bryan (60) en sy seun Robert (20) se Beechcraft Baron-vliegtuig het verlede Sondag onderweg van Uganda na die Lanseria-lughawe oor Mosambiek vermis geraak.
Die familie het vrywilligers se hulp ontbied nadat owerhede in Mosambiek die soektog gestaak het, berig Beeld.
Kort voor die vliegtuig vermis geraak het, het Bryan ʼn radioboodskap gestuur dat die vliegtuig ʼn probleem met een van sy enjins ondervind.
“Enigiemand wat kan help of wat toegang het tot satellietfoto’s of ander tegnologie kan ons kontak op [email protected]. Ons kan nie net ophou soek na hulle nie,” het Dane du Plooy, wat deel van die soekgeselskap is, gesê.
– Maroela Media/Sapa