Vliegtuig-slagoffer glo deur brandweerwa omgery

Een van die slagoffers van die noodlottige vliegtuig-ongeluk Saterdag in San Francisco, is glo deur ‘n brandweerwa omgery.

Twee tienerdogters van China is in die ongeluk oorlede, alhoewel ses van die 307 mense aan boord nog steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal verkeer.

Die media in China het die twee slagoffers as die 16-jarige Ye Mengyuan en 17-jarige Wang Linjia uitgeken. Die twee was glo klasmaats van China. “Dit is moontlik dat een van die meisies deur ʼn brandweerwa omgery is,” het Joanne Hayes-White, hoof van die brandweer in San Francisco gesê. White het nie die slagoffer uitgeken nie. “As mens na haar beserings kyk, is dit moontlik dat een van ons voertuie, of ʼn ander voertuig, dalk tot haar beserings bygedra het,” het Hayes-White aan die San Francisco Chronicle gesê.

Die tweede slagoffer het glo noodlottige beserings opgedoen toe sy uit die vliegtuig geslinger is toe die stert van die vliegtuig die aanloopbaan getref het.

Die twee vriende sou ʼn besoek afgelê het aan Stanford University, net suid van San Francisco, en sou ʼn somerkamp by ʼn plaaslike Christelike skool bygewoon het.

Intussen het Asiana Airlines Maandag bevestig dat die vlieënier, wat die Boeing 777 gevlieg het wat in San Francisco in Amerika neergestort het, nog in opleiding was. Die moontlikheid dat die noodlottige ongeluk dus aan ʼn menslike fout toegeskryf kan word, word dus nie uitgesluit nie.

Ondersoekbeamptes het Sondag aangedui dat die vliegtuig glo stadiger gevlieg het as wat vir landing voorgestel word.

Die vlugdata-opnemer het aangedui dat die vlieëniers gewaarsku is dat die vliegtuig moontlik gaan stol en dat hulle die landing moet aborteer. Die versoek om die landing te aborteer is 1.5 sekondes voordat die vliegtuig neergestort het, opgeneem.

Asiana het Maandag in Seoul gesê die vlieënier, Lee Kang-Kuk het 43 ure ondervinding op die Boeing 777 agter die blad en is steeds in opleiding, alhoewel hy meer as 9 000 vlugure-ondervinding het.

Lees ook:
Video: 2 dood, 180 beseer in San Francisco-vliegtuigongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.