Vliegtuig stort neer buite Lanseria

Foto: @Geraldsmith69 op Twitter

Twee mense is Donderdagoggend dood toe ʼn ligte vliegtuig naby Lanseria Internasionale Lughawe buite Johannesburg neergestort het.

“Ons kan bevestig twee mense is dood,” het Claudette Vianello, woordvoerder vir die lughawe, gesê.

Beamptes poog steeds om die oorsaak van die ongeluk te bepaal wat net voor 10:00 plaasgevind het.

“Ooggetuies het gesê die vliegtuig het by die lughawe opgestyg en dit wou voorkom of hy wou terugkeer toe dit in ʼn oop stuk veld buite die lughawe neergestort het,” het Vianello bygevoeg. Die ongeluk het nie op die lughawe se gronde plaasgevind nie en aktiwiteit en vlugte by die lughawe word dus nie hierdeur geraak nie.

Vianello sê die huidige inligting is dat die twee slagoffers die enigste twee persone aan boord die Cirrus-vliegtuig was.

“Die persone was reeds dood toe paramedici van Netcare911 by die toneel aangekom het,” het Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare911, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.