Vliegtuig stort op hoofweg neer

Kew se Jabaroo net na die ongeluk. Foto: Carminda Swanepoel

Graham Kew, ʼn vlieginstrukteur van Witbank, is beseer nadat sy ligte vliegtuig, ʼn tweesitplek-Jabiroo, Saterdagaand op die N4 tussen Witbank en Middelburg in Mpumalanga neergestort het.

Kew, wat in sy 50’s is, is ʼn vernuftige vlieënier wat ook akrobaatvliegkuns doen. Hy was die enigste persoon in die vliegtuig.

Volgens Willie Swanepoel, ʼn ooggetuie wat eerste op die toneel was, het Kew vanaf die vliegveld opgestyg om oor die Witbank-dam te vlieg toe sy linkervlerk die hoogspanningslyn tref wat oor die N4-hoofweg loop.

“Die vliegtuig het neus eerste op die middelman van die N4-hoofweg tussen Witbank en die Middelburg-tolhek geland en ʼn klomp meter geskuur,” het Swanepoel gesê. “Toe ek by Graham kom, was hy bewusteloos, maar het goed asem gehaal. Ek het wrakstukke wat op hom gelê het, verwyder en by hom gewag. Die ambulans en polisie was binne oomblikke op die toneel.”

“Ons vermoed die vliegtuig het enjinprobleme ondervind,” het Swanepoel bygevoeg. “Ek en my vrou het buite gestaan en kyk hoe hy opstyg, en ons albei het opgemerk dat die enjin vreemd klink. Oomblikke daarna het die ongeluk plaasgevind.”

Halo Aviation, wat mediese nooddienste in Mpumalanga verskaf, sê Kew is na die Kosmos Hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Kew in sy vliegtuig, Julie 2012. Foto: Carminda Swanepoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.