Vliegtuiginstandhouding onder loep

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Woensdag die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) gevra om lig op sy planne vir die toekomstige instandhouding van sy vliegtuie te werp ná een van dié vliegtuie glo ʼn noodstop weens enjinprobleme moes maak. Die SALM se kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG kom op 31 Maart tot ʼn einde.

Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, sê die SALM se beëindiging van sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG en die gevolglike verlies van 523 vliegtuigspesialiste is kommerwekkend aangesien daar die afgelope paar maande verskeie gevalle was waar lugmagvliegtuie probleme ondervind het. “Baie van die lugmag se vliegtuie is reeds oud en moet gereeld versien word. Gelukkig is daar tans steeds vliegtuigspesialiste wat dit kan doen. Hierdie spesialiste se moraal word egter tans uiters negatief geraak deur die voortslepende onsekerheid en ondeursigtigheid van die kwessies rakende die beëindiging van die instandhoudingskontrak.”

Die vakbond het vroeër ʼn beroep op die SALM gedoen om oop kaarte oor die beëindiging van sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG te speel. “Ná vandag se voorval is dit ongetwyfeld tyd vir die lugmag om sy stilte oor die kontrak te verbreek en die versekering te gee dat sy vliegtuie wel voldoende in stand gehou gaan word wanneer sy kontrak met Denel Lugvaart/AMG tot ʼn einde kom. Die vraag moet ook gevra word: wie baat nou eintlik by die beëindiging van die kontrak?”

Solidariteit het die SALM vroeër daarvan beskuldig dat hy agter ʼn verslag van die ouditeur-generaal wegkruip en die werklike rede vir die beëindiging van die kontrak verswyg. Die SALM het Denel Lugvaart/AMG en vakbonde eers om die bos gelei deur voor te gee dat hy moontlik opsies om die kontrak te hernu oorweeg en deur nou agter die verslag van die ouditeur-generaal te skuil. “Dit is hoogs onwaarskynlik dat die ouditeur-generaal in dié verslag, wat nie wyd beskikbaar gemaak is nie, voorgestel het dat die kontrak beëindig word. Die ouditeur-generaal het waarskynlik eerder voorgestel dat die kontrak hersien word om aan die nodige wetgewing en regulasies te voldoen. Die SALM het dus heel moontlik die geleentheid gehad om die kontrak te hersien, maar nou word die ouditeur-generaal se verslag as ʼn rookskerm gebruik,” het Loggenberg gesê. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.